Featured

Die vrug van my mond

TE veel woorde. Dit is wat die meeste van ons het. Dit is die kragtige instrument in ons midde.

Tog besef ons nie elke dag hoeveel krag ons woorde kan dra nie.  Ons kan ‘n hele vrugteboord met woorde kweek. Hoe daardie vrugte lyk, is egter elkeen se eie keuse. Te veel woorde kan ‘n goeie ding wees…mits ons dit reg aanwend.

Hierdie skryfstukke is deel van my poging om met my te veel woorde, ‘n wesenlike woordelike verskil te probeer maak. Woorde wat bemoedig, woorde wat troos, woorde wat opbou, woorde wat motiveer, woorde wat wys is. Woorde wat die Skepper van woorde sal verheerlik as die Woordbron van elke woord wat LEWE gee. Mag hierdie woordvrugte vir jou as die leser daarvan sappig en soet wees. Dié vrug van my mond.

“From the fruit of his words a man shall be satisfied with good…” Proverbs 12:14 (AMPC)

woman-eating-fruit

Kitsroem op die ysskaatsbaan

woman-ice-skating-lake_1303-13335

Die nuwe skoolkwartaal gaan begin. Dis in die middel van die winter en snerpend koud in die Kaap. Ek wil net hiberneer onder my donskombers met trosende teue boeretroos wat warm in my keel kan afloop terwyl die grys wolke mistroostig oor Tafelberg hang. Maar ek en Prinses trotseer nog ‘n ysiger koue: die ysskaatsbaan. Ons selfingestelde tradisie waarmee ons elke nuwe kwartaal vier.

Gepantser met musse, jasse en dubbele paar sokkies durf ons bibberend, maar dapper die mensgemaakte noordpool aan. Dis ‘n vrolike spulletjie wat die ysskaatsbaan versier. Die helfte lyk soos ons, toegedraai in ysbeer-gewade. Die ander helfte lyk soos somerskinders met hul kaal arms op ‘n eilandvakansie. Met die klem op kinders, want skaatsers van my portuur is dun gesaai op dié soort bane. Veral vandag. Enkele volwasse afrigters is besig met hul ysskaatsstudente. Verder is ek min of meer die enigste “grootmens” wat my skaatse aantrek en die gladde ys betree. Ek laat my nou nie daardeur afskrik nie. Ek wil darem graag hê Prinses moet eendag terugdink en onthou hoe Mamma ook aktiwiteite saam met haar gedoen het en nie net altyd langs die kant gesit het nie. Ek wil ‘n Ma wees wat dinge saam met my kinders doén. En mallemeule kan ek nie saam met Prinses ry nie, want as ek net kyk na daai monsters wat so deur die lug swaai, is ek reeds naar. Wat nog te sê daarop ry. So ek kies dan liewers ysskaats, waaruit ek gelukkig ook genot put én wat boonop naby genoeg na my sin aan die grond is. As dit nou by die deur-die-lug-swaai goed kom, is ek maar ‘n langs-die-kant-sit Mamma. En dankie tog, die ysskaatsbaan het my nog altyd goed behandel.

Die professionele ysskaatsers oefen tussendeur ons gewone gepeupel op hul meevoerende mooi musiek wat in die arena bulder. Ek en Prinses sweef oor die ys. Ek voel die wind deur my gekroesde lokke wapper en in my verbeeldingswêreld is ek een of ander nimflike ysskaatskampioen wat fiets en vroulik elke beweging met soepelheid en veerkrag uitvoer. Prinses en ‘n maat wat saam ysskaats, staan eenkant op die baan en werk ‘n oulike dansie op die maat van die musiek uit. Ek skaats nader om ook kamma grasieus ‘n paar ritmiese armbewegings te maak…En toe gebeur dit. My oomblik van kitsroem op die ysskaatsbaan. Binne een sekonde besef ek eers hoé naby die grond werklik aan jou is op ‘n ysskaatsbaan. Maar ek het nie tyd om te wonder of die-in-die-lug-goeters toe tog maar ‘n veiliger opsie vir ‘n veertigjarige is nie. Want die ysskaatsnimf plof met ‘n dawerende slag op die grond neer. Niks nimfagtig, soepel, veerkragtig of kampioenagtig nie. Net seer. Baie seer.

‘n Allemintige pyn skiet deur my rug en ek krul op in ‘n hulpelose bondel bene. “Mamma, is jy okei?” dring Prinses se bekommerde stemmetjie tot my singende ore deur. Een van die afrigters pyl op my af en probeer vir my deurmekaar kop instruksies gee hoe om my logge liggaam van die ys af op te kry. “Ek dink nie ek kan opkom nie”, verklaar ek bewerig. “No, you have to. Come, first get on your knees”, beveel sy kalm en het my arm beet in ‘n stewige greep. Al my bravade vergete, klou ek soos ‘n kleuter aan haar vas. “Please just help me to the side”, prewel ek, nog te seer om verleë of verneder te voel. Toe ons die rand nader, kry ek dit tog reg om ‘n grappie te maak. “I guess I should have rather leave the moves and only skate”, sê ek flouerig vir haar. Sy knik met ‘n glimlag, en ek sien die vonkel in haar oog. “We fall like that all the time”, sê sy. Maar ek kan vireers aan niks anders dink as die knaende pyn in my rug en die feit dat ek weer sal moet gaan skaats voor die einde van die sessie nie. Want anders, net dalk, kom ysskaats ook volgende keer op my lysie van nie-saamdoen-dinge-nie.

Al waggelende is ek toe om die ysskaatsbaan, seer rug en al. Ek prewel ‘n dankgebed vir God se beskerming en my spesiale engele wat die val versag het. Dat ek nie vandag iets op hierdie skaatsbaan morsaf gebreek het nie, is ‘n absolute wonderwerk. En ek voel natuurlik famous om al die verkeerde redes. Almal loer nou met simpatieke (of is dit glimlaggende?) vir die Tannie wat nounet op die ys neergeplonk het. En daar tref die skaamheid my skielik soos strome yswater en ek voel sommer ordentlik verleë.

Maar toe dink ek aan my Prinses wat ‘n storie het om eendag vir haar kinders te vertel. Van Ouma wat saam met haar ysskaats trotseer het. En nadat sy geval het, weer opgestaan het en nog geskaats het. En ek dink aan God se alomteenwoordige getrouheid en beskerming. Hoe ek Hom vandag selfs op ‘n ysskaatsbaan kon ervaar. Want vandag het Hy my herinner dat mens altyd opkom na ‘n val deur eers op jou knieë te kom…

En dít maak my groot val die moeite werd en is meer as genoeg rede vir kitsroem.

1 Tessalonisense 5:17 – “Bid gedurig.”

Hebreërs 1: 14 – “Die engele is tog maar net diensknegte. Hulle is geestelike wesens wat God uitstuur in belang van daardie mense wat verlos gaan word.”

Die blindederm, die eiland en die krag van gebed

“Mamma!” roep ‘n flou stemmetjie uit Prinses se kamer. Met skrefiesoë vind ek die tyd op my foon. Dis 02:00. Maandagoggend. Nog slingerend van die slaap suiker ek by Prinses se kamer in. “My maag pyn.” Gebed en Buscopan later kruip ek terug agter manlief se rug in. “Mamma!” Dis 05h00. Steeds Maandagoggend. “My maag pyn verskriklik. En ek is nou naar ook.” Ek tel die ure op my vingers. “Ons kan nog niks vir die maagpyn gee nie, Patroon. Maar Mamma bring ‘n naarpil.” Ek prewel weer ‘n gebed, met ‘n kop wat die oorsake fynkammend probeer uitsnuffel. Mamma-diagnose: Maagkiem. Ons worstel deur die Maandag met maagpyn en naarheid. Ons droom solank oor die res van die skoolvakansie wat sal moet opmaak vir die verlore dag.

Dinsdagoggend voel Prinses beter en herbou haar hele Lego-stad. Verlig kloek ek om haar, my denkbeeldige verpleegster-jassie nog nie heeltemal weggepak nie. My hand kuier kort-kort op haar voorkop en ek dra Energade en ryskoekies aan. Laatmiddag tref die maagpyn Prinses skielik met ‘n uitklophou. Sy vou dubbeld van die pyn, rol kreunend op die bed rond. Beelde van ‘n opgepofte dermpie in ‘n glasbottel langs my hospitaalbed flits voor my verby. En ek onthou die pyn. O daardie pyn onthou ek nog 30 jaar later. Ek bel manlief dadelik – hy behoort al op pad huis toe te wees van die werk af. Hy swiep tien minute later by die voordeur in. Ons laai ‘n onwillige, maar kan-nie-stry-nie-want-dit-pyn-te-veel Prinses in Pappa se koets, gewapen met n sak boeke, ‘n trui en my foonlaaier. Ongelukkig net nie op pad na ‘n glansryke bal toe nie.

Die hospitaalhande is knap en deeglik. Prinses is op n drip, nog krullend, maar stabiel. Die dokter frons oor die simptome. Blindederm erg onder verdenking, maar sê ons kan vroegoggend ‘n sonar neem. Prinses word opgeneem en die pyn gemonitor deur die nag. Sou iets vererger, is sy in goeie sorg en die chirurg is reeds op bystand. Chirurg!? Ag tog, my hart klop in my keel. Kan dit asseblief maar liewers ‘n maagkiem wees, skommel dit in my bekommerde gedagtes rond.

‘n Paar uur later slaap Prinses soos ‘n engeltjie hier langs my. Gesiggie vredevol met geen spore van pyn nie. Ek skuifel rond op my hospitaal-slaapbank. Die lê wil nie kom nie. Die slaap nog minder. Ek lees weer al die sterkte-boodskappies op my foon van ons biddende vertrouelinge. Die weermag-linie wat ons sterk maak as ons swak is. En ek mis my man wat nou in die nanag-ure by ‘n donker huis aankom. Alleen, boonop met sy werksklere vir môre ongestryk. (Sy hande staan vir niks verkeerd nie. Hy was skottelgoed en vou wasgoed op. Maar ek weet sy een heimlike, minder gunsteling huistakie, is stryk.) Ek mis my ma wat ver woon en nie hier kan insweef om my te pamperlang of ‘n warm bord kookkos op te tower nie. En ek besef weer hoe nodig ons mensdom mekaar het. Hoe ons mekaar se arms moet oplig as dit lam raak.

Gewoonlik sê ek graag as die lewe se taai klappe my duiselig laat, dat ek graag op ‘n verlate eiland wil gaan bly. Stoksielalleen met ‘n pynappel en ‘n kokosneutdrankie. (Na verlede jaar se Musiekblyspel, Esther –  A Modern Musical wat ons vervaardig en op die planke gesit het, spot my boetie en sê ek sal net ‘n week daar uithou voor ek al die kannibale leer dans en sing.) Maar toe lees ek nou die dag van die dapper sendeling, John Chau wat die aggressiewe Sentinel-mense op ‘n verlate eiland, regs van Indië, probeer bereik het met die Goeie Nuus. En hoe hy ‘n wreedaardige dood moes sterf slegs die tweede keer wat hy na hulle toe geswem het. Met ‘n pyl en boog. Die eerste pyl die vorige dag was nie noodlottig nie omdat dit die waterbestande Bybel teen sy lyf getref het. Maar toe gaan hy weer terug. Vasberade en dapper, met ‘n Doel voor oë. Tot die dood toe.

So nadat ek die storie tranerig gelees het, is ek skielik minder ywerig om ‘n verlate eiland te besoek. Behalwe dat ek graag nog lank wil lewe om die werk hier te doen wat God vir my uitgekies het (met ‘n groot verligting dat God my nog nie na so ‘n gevaarlike eiland toe geroep het vir sendingwerk nie), moet ek erken ek het tog mense nodig. En ek lê op my hospitaalbedjie (as mens dit in dieselfde groep as bedmeubels kan kategoriseer…) en bid met ‘n warm hart ‘n dankgebed vir ons kosbare bidders en ondersteuningsnetwerk. Ons naby-mense. Ons vegters. Ek voél hul gebed. My hart is rustig. Ek sién hul gebed. Ons Prinses slaap onverstoord dwarsdeur al die vreemde hospitaalgeluide.

Die sonar is normaal en ‘n x-straal wys niks anders ‘n pragtige gesonde kinderlyfie nie. Als volmaak en perfek op hul plek. Prinses se wange het weer kleur en sy peusel selfs aan die hospitaalkossies, eet al die roomyspoeding smaaklik op. Alle pyne en blindederm-gevaar vergete.

Hoe goed is die Here! Die gebed van gelowiges het ‘n kragtige uitwerking. Ons kom die volgende dag laataand vanaf die hospitaal by die huis aan, na al die laaste ondersoeke en prosedures. My selfoon klingel aanhoudend met blydskap-boodskappe van die bidders om ons tuiskomsvreugde te vier. Voetjies die kat wag ons spinnend by die voordeur in. En in die posbus lê ‘n pakkie tuisgemaakte sjokolade-hopies en ‘n briefie vir Prinses. Van ‘n maatjie en ‘n mamma wat onthou het ons oumas woon ver.

My hart sing net daar dankie. Vir ‘n gesonde blindederm, dat ek nie op die oomblik op ‘n verlate eiland woon nie én vir die krag van gebed.

Jakobus 5:16 – Die gebed van ‘n gelowige het ‘n kragtige uitwerking.

User-Completed-Image-Look-After-a-Sick-Teddy-Bear-2018.01.10-23.45.29.0

‘n Voortdurende geoefen

Die jong meisie regs van my draf die trapmeul dat hy eintlik so vibreer van die weemoed. Links van my is ‘n ouer dame ontspanne aan die stap. Sy teug kort-kort aan haar suurlemoenwater terwyl sy rustig die omgewing betraag. Ek mik na die masjien in die middel. Ek klim wankelrig op my nuwe (ou) vriend, sy saaklike “hoe-ver-wil-jy-stap” monitor staar verwytend na my. Dapper stel ek sy elektroniese knoppe versigtig op ‘n moordende “fat burn” program en sit my oorfone soos wapens aan,  gereed vir die oorlog. Ek trek weg met ‘n lekker galoppie op die ritme van lofprysingsmusiek wat polsend kliphard blêr in my ore. Want die vet weet, hier het ek die Here ekstra nodig.

Goedvoel-hormone noem hulle dit. Die endorfiene wat jou lekker moet laat voel as jy klaar geoefen is. ‘n Gratis én wettige “high”. Maar ek dink my endorfiene is dwars. Of bloot net apspriste pretbederwers. Want ek tol soos ‘n dronk tor sleepvoet van die trapmeul af, voel-voel aan die gim-toerusting om nie my balans te verloor nie. Om nou nog hier neer te slaan ook langs die fietse Poppie neffens my, sal ‘n verdere knou aan my gepoogde vrystelling van goedvoel-hormone gee. Ek stap slingerend na die kleedkamers om my sak te kry, terwyl ek dorstig aan my water drink wat ek soos ‘n trofee vashou. Met die instap kyk vanuit die reusagtige spieël by die ingang, ‘n effe natgeswete  vrou met rooiwange my vierkantig in die oë. Ek en sy kyk vir mekaar. En toe glimlag ons. Darem nie so erg nie, knik ek vir my ewebeeld in die spieël. Die hardnekkige Desember-rolletjies klou dalk die keer langer vas. Maar ons gaan hulle verslaan. En die wedloop voltooi. Net soos dit met die lewe werk. Al is dit dan nou ‘n voortdurende geoefen in elke area van die lewe. Want van oefen… kom wen.

Hebreërs 12:1 “…laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop.”

treadmill-feet

En toe word ek…40!

Jesus-walking-on-beach-1920x1080

Die datum kruip versigtig nader. Elke week wat omtik herinner my treiterend aan die lysie. Dié lang lysie van alles wat ek voor 40 moes bereik. Vlietend vlieg die vrae deur my binneste: Waar is ons dubbelverdiepinghuis met die groot swembad en reuse tuin?  Eilandvakansie? Lang toer deur Europa? Twee miljoen in die bank? Drie kinderhuise wat ‘n veilige hawe is vir ouerlose wesies? Werkskeppende sentrums vir haweloses? Wêreldplatform vir my musiek? Reguit wit tande en 10kg minder om my middel?

Tot die week voor my 40ste verjaarsdag. Toe word die koggelende stemme in my stil. En ek hoor hoe die Here stilsterk vir my sê: Jy is besig met die verkeerde lysie. Gaan maak jou lysie oor…gaan en kyk wat hét jy.

En ek gaan blaai deur die argiewe in my kop, die kamers van my hart en die gange van my gees. Saam met Hom. En Hy herinner my sagkens aan die skatte wat skitter in my skatkis: My liefdevolle ondersteunende Faanman wat my toelaat om ‘n Godgewe roeping na te jaag. ‘n Talentvolle prinses wat ons telkens verbaas met haar omgee-hart en wysheid vir haar jare. Onvervangbare familie en vriendskappe wat salf aan my siel smeer wanneer die lewe bloukolle slaan. Die gevoel van vervulling wanneer jarelange drome vlerke kry – en die wete dat dit nie oor my gaan nie maar ‘n groter prentjie waarvan God my deur Sy genade goed genoeg ag om deel te vorm van Sy kaleidoskopiese meesterstuk.

En ek kyk so terug op ‘n wankelrige pad en sien hoe Hy telkens al die groot klippe wegrol. Ek kyk weer. Maar die keer vorentoe. En ek sien Hom steeds. Hoe Hy vooruit loop. Reeds daar is waar ek nog moet kom. Hy kyk vir my. En Hy glimlag. ‘n Nuwe opwinding borrel in my binneste – en ek weet veertig gaan fenomenaal en fantasties wees!

Psalm 16: 5-8

“Here, U alleen is my erfenis, my beker van seën. U waarborg my lotsbestemming. ‘n Pragtige plek is vir my afgemeet. Wat ek geëerf het, is vir my mooi! Ek prys die Here wat my insig gee; ook in die nag is ek daarvan bewus. Die Here is altyd by my. Ja, Hy is aan my regterhand; daarom sal ek nie struikel nie.”

 

In die aantrekkamer

54eba365d671a_-_trying-on-red-dress-xl

“Wow, maar dit lyk stunning!”, bewonder die tienermeisie in die aantrekkamer langs my haar vriendin se uitrusting. “Ag nee man, kyk net hoe styf sit die broek!”, protesteer die aanpasser ontevrede. “Ag moenie simpel wees nie man, jy lyk awesome!”, sê die vriendin. So tipies, dink ek met ‘n glimlag, eintlik verleë omdat ek sopas hul hele gesprek gehoor het. Maar dis nou nie asof hulle fluister hier in die aantrekkamers van ‘n baie besige klerewinkel nie. Heel waarskynlik hoor die hele rytjie aantrekkamers hulle opmerkings, aanmerkings en uitbundige gegiggel oor elke nommertjie wat met groot bravade aangepas word. Ek staar krities, peinsend na die figuur in die spieël voor my. Innig dankbaar dat ek nie ook ‘n kommentator saam met my in die piepkleinhokkie het nie.

“Haai dink jy regtig so?”, sien die aanpasser hier langs my die lig. “Ja natuurlik, ek gaan mos nou nie vir jou lieg nie, duh!”, koggel die kommentator vermakerig. Ek moet op my tande byt om nie hardop vir my bure te lag nie. Dalk moet ek ook maar volgende keer ‘n kommentator saambring, want ek is seker hierdie spieëls in die aantrekhokkies het baie minder genade as die tiener hier langs my. Die spieël het nou vandag die vermoë om sy kollig te skyn op my nog-‘n-pannekoek-want-dis-winter-middellyf, waaroor die romp nou net nie sy “sit” op die lentedag wil kry nie. Of is dit nou “hang” wil kry nie. Of nee wag, “sit” is dalk beter. Want sien, “hang” is juis hier die probleem. As dinge nie hang nie, sal die romp mos nou sit. Of sal die romp nou beter hang as dinge nie sit nie… Of hoe ookal! Die romp sit nou…wel, net nie lekker nie. En ek het net twee weke oor voor die fotosessie. Net twee. En almal weet hoe vinnig twee weke verby kan vlieg as jy eintlik soortvan nog vyf kilo’s wil laat verdamp. Verdwyn. Vernietig.

Ek en die figuur in die spieël kyk weer vir mekaar. Dalk moet ek vir haar glimlag? Dalk lyk sy dan minder oes. Haar hare staan in vier windrigtings op ‘n windstil dag – na die vyfde hemp al hygend oor die kop getrek is. Die wange is rooi soos iemand s’n wat ‘n fiets-marathon voltooi het (klere-marathons tel hier ook!), en haar skouers hang moedeloos, ampertjies soos een wat die stryd vuisvoos gewonne gee. Ek kyk haar moedswillig vierkantig in die oë. En daar sien ek dit – die oë lewe tog nog. Eintlik vonkel hulle. Hulle flits soos ‘n antieke vegter van ouds, wat gereed staan vir die volgende linie wat storm. En net daar, trek die vrou haar hare sorgvuldig reg. Lig daardie skouers op soos ‘n soldaat wat wil salueer. En toe, net toe glimlag sy warm aanvaardend vir my terug, rooi wange en al. Die genadelose kollig heel vergete. In die aantrekkamer.

– Psalm 139:14-15 “Ek loof U omdat U my so besonder wonderlik gemaak het. U werke is wonderbaar, ek weet dit alte goed! My bene was vir U sigbaar toe ek stilletjies gevorm is in die dieptes van die moederskoot.” –

Met een oorbel vir ‘n hele pakkie kougom

Ek het gou ‘n vinnige halfuur om in te hop by die koswinkel vir kruideniersware. Ons kry oorslaapgaste vanaand – en ek loop so praat-praat met die selfoon teen my oor by die winkeldeure in terwyl ek en manlief gou ons kosplanne bespreek. Ek woerts vining tussen die rakke deur met my een oog op die horlosie – Prinses is by die balletklas, so ek moet my trollie vinnig rol.

So in my harwar merk ek op dat die dame wat my by die bakkery help, my so effe langer bekyk toe ek my broodjies in ontvangs neem. Ek glimlag vriendelik terug. Dit is mos een van die gees-vruggies wat lekker is om uit te deel. By die vrugte-weeg gebeur dieselfde, behalwe dat die man nie so groot glimlag nie, maar die een kant van my kop baie ammuserend betraag. Dis toe dat ek begin wonder of ek dan nou vandag ‘n vreemde sliert het wat by my bolla uitpeul. (Ek dra hoeka nie in die winter eintlik ‘n bolla  nie, my nek kry te koud!) Ek het skaars grimering aan vandag, net ‘n vinnige maskara. Dalk lyk ek bietjie vaal, dink ek peinsend. Of dalk lyk ek juis baie mooi en super jonk vandag met my jeugdige voorkoms, paai ek myself met ‘n grinnik. Hoekom sal mens nou altyd net eers dink aan die moontlike foute, raas ek sommer met myself. Dalk is vandag dié dag wat ek vir die koswinkel se vriendelike personeel lyk soos ‘n jong model uit ‘n modetydskrif of ‘n kruideniers-diva (hoe ookal een lyk), giggel ek.

Toe ek in die lang tou staan om te betaal, merk ek die man voor my se priemende blik op my hare (of my kop of ore?). Haai nee wêreld, ek is ‘n getroude vrou, meneer! En ek kyk sommer vies en skaam tegelyke tyd weg na die uitlokkende sjokolades wat in die paadjie se rakke knipoog. Maar toe ek by die kassier kom wat my oorvriendelik groet, begin ek erg onraad vermoed. Ek loer na my baadjie – nee ek het nie weer die knope skeef vasgemaak nie. Alles lyk op die oogaf heel in orde. Dalk voel almal in hierdie winkel vandag net regtig besonders vriendelik.

Toe ek my beursie uithaal om te betaal sien ek ‘n pakkie kougom in my handsak. Dis nog toe en lyk splinternuut. Genade, die oomblik wat ek dit van die rak afgehaal het, flits deur my kop. Ek het dit dan nou hier by die winkel geneem om saam met die kruideniersware te betaal. Hoe kom dit in my handsak?? Met vlammende wange haal ek dit uit my handsak en verduidelik vir die kassier dat ek dit in my haas en uit gewoonte seker in die handsak gesit het – en wys vir haar die ander halwe pakkie van dieselfde soort waaruit ek nounet ‘n kougom gehaal het. Verleë betaal ek die amper gesteelde kougom saam met die res van die kruideniersware. Al verskonend vertel ek vir die oorvriendelike kassier en mede-vriendelike pakker dat ek vandag verstrooid en haastig en eintlik baie eerlik is. Gits, die blote gedagte van ‘n amper gesteelde kougom laat my soos ‘n groot krimineel voel!

Met my wange nog brandend trippel ek vol verleentheid by die winkel uit. Ek draf met ‘n spoed dat die trollie so woerrrr oor die vloer tot by die motor. Prinses se ballet is amper verby. Laai die pakkies in, bêre die trollie, maak die deur van die motor op. En so met die oop deur van die motor net voor ek inklim – sien ek dit… Iets wat blink op die grond. My oorbel.

En die kruidenierswinkel se oorvriendelike personeel en klante se glimlagte flits weer voor my verby. Ha. Natuurlik kon my een groot baie bonkige oorbel, genadeloos ontbloot deur my bolla-hare, deur niemand misgekyk word nie. Ten minste kon ek ‘n bietjie vermaak verskaf aan die koswinkel se vriendelike mense. En troostend dink ek aan die belangrikheid van innerlike skoonheid bo uiterlike mooiheid. Maar goeiste tog, die kougom is ‘n ander storie…

Tuis haal ek die strokies uit. My wange sommer weer warm aan die blote gedagte van die onbetaalde kougom in my handsak. Ek kyk na die strokies. En weer. Op die strokie van die apteek waar ek gou ingehop het voordat ek na die koswinkel toe is, is twee items: bruistablette én kougom. Die presiese kougom van my handsak. Dus het ek vandag, met één bonkige oorbel twéé keer betaal vir één winkel se kougom. Die tweede keer in ‘n ander winkel vir ‘n ander winkel se kougom. Dit alles met een oorbel –  vir ‘n hele pakkie kougom.

– 1 Petrus 3:3 Moenie dink dis bloot uiterlike dinge soos haarkapsels, juwele en pragtige klere wat julle mooi maak nie. 4 Julle skoonheid moet veral innerlik wees: blywende beskeidenheid en ’n gemoed wat kalm en rustig is. Dit is vir God kosbaar. –

Oorbelle

Soos altyd

Die pad is lank en uitgestrek Karoo toe. Maar soos altyd, beloon die vars lug en vaalgroen vlaktes elke sieldodende kilometer tiendubbeld terug. Die blouberge se punte glim blinkwit van die sneeu soos die Karoo-son weerkaatsend daarin dans.

Ek en Prinses stop opgewonde by Oupa en Ouma se huis. Bevoorreg om te kon wegglip vir ‘n paar salige rusdae, terwyl manlief die stad en vir Voetjies, die kat, oppas.

Die honde blaf swaaistert, soos altyd, om ons aankoms aan te kondig. En soos altyd, hou ons die deur met verwagting dop – want as die honde se eerste blaf weerklink, storm ouma altyd dadelik by die deur uit. Met ope arms om haar kroos en kleinkroos te omhels. Maar die deur bly toe.

Prinses hardloop om na die voordeur en lui die klokkie drie keer. Maar die klokkie se vrolike dieng-dong, laat ‘n ysige sneeu-stilte na. Selfs die honde het nou ophou blaf. Ek voel-voel na my foon met ‘n koue hand. Een “missed call” van “Mamma” op my foon. Dit was ‘n halfuur terug. Ek maak die “whats app” boodskappe oop – Mamma het ‘n boodskap ook gestuur. “Hallo Liefie, ek net gou skielik saam met Pa moes ry. Bel my as julle voor ons by die huis kom. Xx” En ek weet net. Dis nie soos altyd nie. Nog nooit was daar nié iemand tuis as ons motor die oprit tref nie…

Ek bel Mamma met ‘n kloppende hart. Prinses loer grootoog deur die hek. Mamma antwoord vinnig in ‘n sagte stem. Die agtergrond klink steriel en hol. Sy is met my Pa by die hospitaal. “Is dit sy hart?”, vra ek dadelik. My ore sing in die afwagtende stilte. “Ja Liefie. Maar hy is okay. Alle toetse wys normaal. Hulle wil hom wel opneem vir observasie deur die nag.” Dankie Here, prewel ek verlig. Okay. Hy is okay.

‘n Paar dae later, herkou ek aan die emosionele hallo-groet in die hospitaal. Die oorweldigende dankbaarheid om hom te kon sien. Hom nog te hê. Die goeie nuus van die verdere toetse wat geen hart verwante oorsaak uitwys nie, maar toegskryf is aan slegte spysvertering. Oupa is eintlik geweldig gesond. Gereed vir nog baie herinneringe bou saam met ons. Soos altyd.

Met so ‘n skrik, dink mens mos altyd oor baie dinge. Koester verhoudinge, evalueer fokus, doen selfondersoek, oordink doelwitte, bepeins drome, analiseer die ewigheidswaarde. Breek of bou ek Koninkryk?

Nog besig met my gedagtes, sien ek die hartroerende prentjie in die hoek van my oog: Prinses op Oupa se skoot. Soos altyd.

Matteus 5:3 – “Gelukkig is dié mense wat weet hoe nodig hulle God het, want die koninkryk van die hemele is húlle deel.”

5ab219107638efcca3c5666c96636f66

Meer as net ‘n “gewone dag”

Ek koes rukkerig, nog onseker oor wat nou eintlik gebeur het. Die motor se hele voorruit is vol groen blertse “iets”. Dit seil streperig soos slymerige slakke af, van bo tot onder. My hart klop woes in my keel. Verskeie gedagtes flits vlietend in dieselfde sekonde deur my kop. As dit nou ‘n klip was… Ek loer onderlangs na Prinses agter in die motor. Sy is besig om ‘n boekie te lees en het net skrams gesien wat gebeur het. “Dankie Jesus”, prewel ek. Nog bewerig van skrik en ongeloof en – die kyk in sy oë… Dankbaar vir groen blertse op my ruit. Met merke wat kan afwas sonder skade en seer. En my hart pyn oor die kyk in daardie jongman se oë. Hy gooi motors met vrot kos – die onskuldige teiken van sy opgekropte woede en worsteling. “Seën hom, Here”, bid ek en Prinses in die motor. “Help hom”. Ons ry versigtig verder. Magteloos oor die onvermoë om die man in sy nood te help.

Die nuus op die radio is aan. Twee weke van verwoestende gebeure wat soos ‘n skerp lem deur elke nuusflits sny. Honderde mense sonder huis na brande en vloede. Sonder motor. Sonder dier. Sommige sonder mens… Kaal gestroop. “Hoe help ek Here?” dink ek verlam. Nog ontnugter deur my eie belewenis van ‘n minuut terug. Die groot getal van mense in nood, té oorweldigend vir my denke.

My gedagtes draai terug na die Biblioteek waar ons was net voor die vrot kosgooi episode. Die Bibliotekaresse vra my toe ons boekies inruil: “En wat het Mevrou al vandag gedoen wat goed is?” Half onkant, kyk ek haar stom aan. Dit was sover nog net ‘n “gewone dag”, dink ek, toe my gedagtes blaai deur my onthou-laaie. Gewerk, na skool die gewone kinder-aktiwiteite-mamma-is-taxi middag. Maar wat was goéd. Lewensveranderend. ‘n Werklike verskil. Ewigheidswaarde? Nog niks vandag nie, dink ek amper hardop, sommer terselftertyd skaam. Net mooi vandag wat sy my dié vraag vra, kan ek nie dadelik iets opnoem nie. Ander dae ja. Ons koop graag gereeld vir die kassier in die kruidenierswinkel sjokolade en koffie vir die karwag. Nou die dag ‘n potplant geneem vir die buurvrou na haar operasie en die ander buurvrou bygestaan toe sy deur ‘n hond gebyt is. Maar vandag?? Nog niks. En ek antwoord haar toe: “My dag is nog nie verby nie.” Met ‘n skalkse glimlag.

Nog effe bewerig, maar veilig in my motor met die grillerige groen blertse teen die ruit, hoor ek die sagte fluistering van die Heilige Gees: “Moenie net teen die massa vaskyk nie…elke één is vir My belangrik…” En daar besef ek dit toe – ek het tog iets goeds gedoen vandag. Selfs op ‘n “gewone dag”, sonder ‘n groot gebaar of geraas. Ek het gebid.  Vir een vreemdeling.

Lukas 6:28 – “Seën dié wat julle vervloek. Bid vir hulle wat julle seermaak.”

red-heart-glossy-mood-wooden-love-hd-wallpaper

Nuwe breinselle

Ek word gedisoriënteerd wakker. Strompel met ‘n geheel-en-al-verslaap-houding uit die bed terwyl ek my protesterende oë probeer ooprek. “Nuwe breinselle”, dink ek gapend terwyl ek wonder wat om aan te trek. Elke oggend word jy met nuwe breinselle wakker. Dit het ek nou die dag gehoor in ‘n praatjie. Amuserend. Dankie tog, want dit help my soortvan op die dag wat ek met my “geheel-en-al-verslaap-houding” wakker word. Want op so ‘n dag, wil my ou breinselle nie opgewonde wees nie. Nie oor die sonsopkoms, die voëltjies se vrolike oggendsang of énige iets nie. Nog minder al die vooruitsigte en take van die nuwe dag! So dan…probeer ek maar in die eerste paar sekondes van die dag om ten minste my “nuwe breinselle” te mobiliseer om die dag aan te gryp. “Positiewe denke! Kom julle ouens (of is hulle nou vrouens?), julle kan dit doen!” Paar sekondes verloop. Nee. Niks. Niks voel anders nie. Ek voel nog steeds geheel-en-al-verslaap. Die nuwe breinselle word sekerlik ook nog wakker…dink ek, met verlangende oë na my warm bed.

My dag verloop soos ‘n tipiese geheel-en-al-verslaap-dag. Die ongenaakte onvoorbereide gevoel van nie geleer vir ‘n eksamen nie, bly my treiter deur die dolle gejaag van ‘n deurmekaar dag. So voel ‘n tipiese geheel-en-al-verslaap-dag – my definisie van ‘n dag wat ek nie alleen saam met Hom kon begin nie… Net ek en Hy. In stilte. Met die agtergrondmusiek van die singende voëltjies, wat die Skepper se nuwe genade-strale besing. Afgesonder vir volword, missie ontvang en dan gaan uitdeel… Hierdie proses is die daaglikse broodnodige mobilisering van my ou breinselle, die brandstof vir my tenk, die hartklop van my bestaan. Ek en Hy. Alleen.

Maar met dankbaarheid vir daaglikse nuwe breinselle en groot grosse genade wat elke dag nuut is, sien ek skielik al ons alleentydjies deur die dag raak. Ek geniet steelgeselsies en grappies met Hom. Ek sien die mooi prentjies wat Hy vir my in die lug verf. Ek sien immergroenbome met blinkgroen blare ten spyte van die winterseisoen. Ek hoor my kind se vrolike borrellaggies en verspotte grappies. Ek voel my man se sagte omhelsing as hy sê: “Jy lyk mooi vandag.”

En vanaand klim ek in my warm bed. Almal slaap. En dis net ek en Hy. Alleen. En ek sê dankie vir groot genade. Sy alomteenwoordigheid, selfs in my geheel-en-al-verslaap-dae. En natuurlik, vir nuwe breinselle.

Jesaja 26:9 – In die nag smag ek na U, in die môre vra ek na u wil.”

maxresdefault